|
Die visie van die PPK is en bly steeds om as ‘n effektiewe, sielewennende en Geesvervulde kerk uitvoering te gee aan die Groot Opdrag wat aan die kerk van Christus toevertrou is, naamlik om te gaan en die evangelie van Christus aan die hele wêreld te verkondig.
Om uitvoering aan die visie te gee is dit nodig dat die kerk as organisasie so effektief as moontlik instrumenteel sal ontwikkel ten einde ‘n daadwerklike bydrae te kan lewer in die uitbouing van die koninkryk van God.
Die uitdaging vra onder meer dat daar omgesien word na die nastreef en uitbouing van die volgende hoofoogmerke en waardes:
- GESONDE ADMINISTRASIE
Goeie, gesonde finansiële bestuur en algemene administrasie.
- VYFVOUDIGE BEDIENINGSTRUKTUUR
Vaartbelynde organisasie en strukturering met die klem op funksionaliteit en verhoudingstrukture in plaas van ‘n posisionele-, hiërargiese struktuur. Die erkenning en ontwikkeling van bedieninge met besondere verwysing na die vyfvoudige bedieningstruktuur is hier van besondere belang.
- SELFSTANDIGE GEMEENTES
Die selfstandige ontwikkeling en uitbouing van die lokale gemeente as outonome regspersoonlikheid met erkenning van sy eie unieke aard en samestelling. Dit is belangrik dat elke gemeente relevant sal wees tot die maatskappy wat dit dien en daarom ook daadwerklik sal omsien na die ontmoeting van sosiaal-maatskaplike eise en behoeftes van die gemeenskap.
- LIDMAAT BETROKKENHEID
As medewerkers van God in die opbouing van die liggaam van Christus is dit van absolute belang dat elke lidmaat betrokke sal wees en in gawes, talente en bediening gemobiliseer sal word ten einde ‘n daadwerklike bydrae te kan lewer in die vergestalting van hierdie visionêre en missionêre opgaaf.
- HEILIGE GEES BEDIENING
Hiertoe sal die PPK as kerkorganisasie hom verder beywer deur ten alle tye die nodige plek en ruimte te skep vir die gawes, werking en bediening van die Heilige Gees.
|